Clear

Filtered by:

Series: MP3 Preke

  • April 16, 2017

    Series: MP3 Preke

    Inhoud. Christus het die opdrag van God die Vader uitgevoer deur self weer as mens uit die dood op te staan op so wyse dat Hy vandag nog steeds mens is. Soos wat Hy aan sy dissipels gewys het hoe hy mens is na sy dood is Hy vandag nog steeds ʼn mens van vleis en bloed. Geloof in Hom as Here is om te glo dat Hy self as mens leef, ons in sy lewe as mens insluit en so ons aan God die Vader in sy liefde laat behoort. Ongeloof in die Here volgens die gees van die antichris is om nie te glo dat die Here vandag mens is van vleis en bloed nie, maar dat Hy gees is. Dit is die ongeloof waarin mense Jesus se lewe geestelik wil beset en besit. Daarom leef hulle in die ongeloof dat Hy in hulle moet opstaan, in hulle moet leef sodat hulle sy lewe vir Hom op aarde kan voortsit. Dit is die ongelowige hart van elke herlewing, oplewing en vernuwing wat die Here se lewe, liefde, waardes, beginsels, krag en Naam wil voortleef. Die Here het self opgestaan en lewe vandag nog steeds om ons in te sluit in wie Hy is sodat ons só aan Hom as God kan behoort.

  • April 9, 2017

    Series: MP3 Preke

    Inhoud. Hierdie preek wys dat die Here Jesus alleen die volmag het om sy lewe as offer vir sonde af te lê en die volmag het om weer uit die dood op te staan om sy lewe as mens met sy kerk vandag te deel. Die Here skep en gee ons die ewige lewe: ʼn lewe waarin ons vir ewig binne die liefde van God bly al het ons nie werklike liefde nie. Die Here het sy lewe as offer afgelê sodat ons met Hom die ewige lewe kan leef. Die wêreldse geestelikheid wys in die eiemagtigheid waarmee Petrus die Here teengaan om self sy eie ewe vir die Here te wil aflê. Geestelikheid wil God bemagtig om Here te wees deur die ewige lewe weg te gee, op te gee en oor te gee sodat God sy goddelike lewe deur mense maar moet kom leef omdat hulle op die ewige lewe opgegee het. Gelowiges lê nie hulle lewe vir God af soos Jesus nie maar leef die ewige lewe saam met die Here.

  • March 31, 2017

    Series: MP3 Preke

    Inhoud. Hierdie is ‘n huwelikspreek vir Ewald en Carla Slabbert. Die preek wys twee soorte liefdes uit. Paulus se eerste eiegeregtigde liefde as Jood waarin hy geglo het sy liefde wat hy het is reg en goed en die tweede liefde wat Hy in Christus gevind het. In Christus het hy ‘n ander liefde as sy eiegeregtigde liefde gevind. Dit is die liefde van die Here wat sy gebroke en misplaasde liefde vir Hom as Here heilig en regverdig. Binne Christus het Paulus ontdek wat liefde is wat net liefde en niks anders is nie. Hierdie is die verskil tussen kinderagtige liefde en volwasse liefde. Man en vrou kan in die eenheid waarin die Here hulle verenig mekaar volwasse liefhe en nie mekaar oorheers met kinderagtige liefde nie.

  • March 27, 2017

    Series: MP3 Preke

    Hierdie les is deel van die volwasse kategese onder die hoofopskrif KATEGESE op die webblad. U kan gerus na hierdie les luister en hoor waaroor hierdie geloofskursus dan gaan. Die kursus lei gelowiges om die evangelie weer buite die geestelikheid en godservarings van die afgodsdiens van die moderne Chrsitelikheid te kan ontdek. Hier na volg die opsomming van die les se Skriflesings. Hierdie kursus sal oor die loop van 2107 in ongeveer 40 lesse ontwikkel word.

    In hierdie geloofsgesprek word gewys hoe die moderne Christelikheid dit wat die Woord van God as verlorenheid vir God openbaar, vandag leer asof dit redding is. Die moderne Christelikheid is die geestelike kunstigheid om verlorenheid vir God te glo en ervaar as redding, om die straf en oordeel van God te ervaar as vergifnis deur God. Vir die luister na hierdie geloofsgesprek kan u die volgende Skrifgedeeltes gereed hou.
    Romeine 10: 1 – 4
    Romeine 3: 19
    Galasiers 1: 8 en 9
    Romeine 2: 19 -21.
    Matteus 16: 6 en 12
    Matteus 23: 8 – 10
    Romeine 1: 1 en 10: 14 – 17

  • March 26, 2017

    Series: MP3 Preke

    Inhoud Hierdie preek wys op die twee verskillende opdragte: die opdrag van die Vader aan sy eniggebore Seun en die opdrag van Christus aan sy dissipels. Christus het die opdrag om sy lewe af te lê en weer op te neem. Die dissipels kry nie hierdie opdrag nie. Hulle kry ʼn ander opdrag, die nuwe gebod: om mekaar lief te hê soos Christus hulle liefhet. Hierdie is twee verskillende maniere om lief te hê. Christus het volkome lief om vir sy liefde veroordeel en gestraf te word. Hierdeur maak Christus sy dissipels en hulle liefde vir die liefde van die Vader volkome, al is hulle liefde vol sonde en tekortkominge. Christus se aflê van sy liefde in die oordeel van die Vader en sy opneem van sy lewe in liefde in die heerlikheid van die Vader, maak dat gelowiges in hulle gebroke liefde vir mekaar, mekaar oordeelloos en stafloos kan liefhê.

  • March 19, 2017

    Series: MP3 Preke

    Inhoud. Hierdie preek wys dat dit die goedheid van God is wat vir ons die geleenthede skep om vir mekaar goed te wees. Christus se kruisiging draai ons vervloeking na Hom en sy seën na ons. So leef ons elke dag in en uit die goedheid van God vir ons. Omdat ons in Christus ingesluit is, meet ons ons liefde vir mekaar met die evangelie, die kruis van Christus. Ons meet mekaar se liefde nie meer met die wet nie. Ons meet nie die liefde wat ons gee met die liefde wat ons by medegelowiges kry nie. Ons meet die liefde wat ons gee en die liefde wat ons by mekaar kry met die liefde van God waarin ons leef. Daarom kan ons nou mekaar se laste dra wanneer ons in sonde val en sonde nie meer gebruik as ʼn rede hoekom ons ons self moeg maak om vir mekaar goed te wees en vir mekaar goed te doen nie.

  • March 12, 2017

    Series: MP3 Preke

    Inhoud. God rus deur dat Hy rustig vir alles wat Hy gemaak het God is. God se rus beteken nie dat Hy moeg was en sy krag na sy skepping van alles moes herwin nie. God het geen stres om vir alles wat Hy gemaak het goed te sorg, te bestuur en te ontwikkel nie. God rus ook in die wyse waarop Hy God vir sondaars is. Hy doen wat Hy vir sondaars in sy verbond onderneem het en daarom is Hy rustig God vir sondaars. Sy kinders maak Hom nie met hul sondes gestres nie. Ons gaan God se rus in wanneer ons Hom vertrou dat Hy weet hoe om vir ons God te wees sonder om oor ons te stres. Wie God nie met hierdie geloof nader nie, bly hardkoppig hulle verhard in die ongeloof dat God ʼn gestresde God is wat mense met hulle offers en toewydings moet rustig kry. Wie so met God besig is, sal nooit sy rus ingaan nie – die rus waar God weet hoe om vir mense soos ons rustig God te wees en rustig sy kinders te laat wees.

  • March 5, 2017

    Series: MP3 Preke

    Inhoud. Hierdie preek wys dat God ons skep, nie transformeer nie. Ons eenheid met Christus waarin Hy ons sonde is en ons sy heiligheid en regverdigheid as mens is, is nie ʼn verhouding met God nie. Dit is ʼn skepping van God. God het ons gemaak en nuut gemaak om vir Hom te leef: ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het toe Hy ons gemaak het. God het nie driftige luste en impulsiewe magsdrome waarmee Hy ons oor en oor maak nie. Dit is wie geestelikes is en met ons wil doen in die naam van Jesus, maar hierdie Jesus is ʼn afgod wat hulle self opgemaak het. Die Here Jesus Christus is vir ons soos ʼn boer wat ons net een maak wat ons is en dan ontwikkel, bestuur en versorg. Die Here is nie vir ons ʼn tuinier wat ons elke keer in nuwe belustigheid en magsdrome oormaak om ons ten toon te stel nie. Hy maak ons een keer en versorg ons altyd om vrug te dra.

  • February 26, 2017

    Series: MP3 Preke

    Inhoud Hierdie preek verkondig hoe die goedheid van God waarmee Hy ons weer vir Hom goed laat wees en goed laat doen, iets anders is as die tipiese welsynsbeeld wat ons in ons eie gemoed oor God en sy goedheid het. Die goedheid van God is hoe Hy is wat Hy is, die Skepper. Hy is goed met en vir sy skepping. In Christus herskep God ons om weer goed te wees en goed te doen, nie om versukkeld te bly in ʼn welwillendheid van God waarin ons altyd maar sleg en gebrekkig voor God is nie.