Clear

Filtered by:

Series: MP3 Preke

  • February 19, 2017

    Series: MP3 Preke

    Inhoud Die preek wys hoe dit God se vreugde is om met sy skeppingswerk besig te wees. Die Here verheug Hom daarin om besig te wees met sy skepping en goed te wees daarmee en daarvoor. Die Psalm wys hoe die Here besig is om ekostelsels te bedryf, van die skuif van tektoniese plate tot en met die afwisseling van verskillende ekotydperke. Die gelowige ken hierdie goedheid van God in en deur sy verbond en daarom kan hy dit ook raaksien in die skepping. Goddeloses kan nie in die Here se skeppingsbedryf die vreugde sien waarmee Hy Homself as Skepper is nie. Hulle sien nie die vreugde waarmee God sy skepping bedryf deur al sy ekostelsels nie. Hulle sien die vertoon van magtigheid. Hierdie waanbeeld van God kom nie uit die skepping nie maar uit hulle magsdrif waarin hulle hul eie mag teenoor die skepping en mense wil glo asof dit welwillendheid is. Daarom sien hulle in die Here se skepping net hul eie magsbeeld. Hulle bewonder hul eie magsbeeld terwyl gelowiges verwonderd is oor hoe God vreugdevol besig is om Here van sy skepping te wees.

  • February 12, 2017

    Series: MP3 Preke

    Inhoud Die preek wys op die omvattende sorg en beskerming van God in Psalm 23 waarmee Hy ons binne sy goedheid en troue liefde vir ewig laat leef. Dit wys dat Jesus Christus hierdie wandel met God met sy heilswerk vir ons vervul het. Esmarie de Lange het ʼn gewas teen haar brein ontwikkel wat haar gedeelte blind gemaak het en verwyder moes word vir ʼn kans om te kan leef. Sy het nie uit die operasie weer wakker geword nie, is breindood verklaar en die familie het bygestaan terwyl die masjiene afgesit is. Die preek wys waar sy haar krag vandaan gekry het om haar blindheid, dood en verlies van haar gesin te aanvaar en waar hulle die krag vandaan kry om sonder haar met die Here te wandel.

  • February 5, 2017

    Series: MP3 Preke

    Inhoud Hierdie preek wys op die verskil tussen ʼn lewe as wandel met God teenoor ʼn lewe as ʼn staptog. God laat ons lewe vir Hom reg wees deur ons lewe vir Hom ʼn lewe te maak waar Hy met ons wandel. Hy maak ons lewe met Hom die regte lewe deur die evangelie sonder die wet. Geestelikes verander elke dag die wandel met God deur die evangelie in geestelike staptogte volgens die wet. Hierdie preek gee leiding om met hierdie geestelikes en hulle geestelike toerusting, oefeninge en togte te breek sodat ons in die rus kan leef om in God se liefde vir ons te kan wandel.

  • January 29, 2017

    Series: MP3 Preke

    Inhoud Die Heilige Gees sluit ons in Christus in om alles wat Hy as mens vir ons is en gedoen het met Christus te deel. Daarom is ons vir altyd sonder skuld en oordeel vir ons sonde, en is ons en ons lewe vir die Here reg en heilig. Hierdeur verander die Here die manier waarop sy wet vir ons werk. Hy maak van die wet van sonde en dood die wet van die Gees. Met hierdie nuwe manier waarop die wet werk, gee die Here ons teregwysings maar staan ons nooit skuldig voor Hom vir dit waaroor ons tereg gewys word nie. Met hierdie wet gee Hy ons aanwysings wat nooit waarskuwings, dreigemente of veroordelings is nie. Ons vervreem onsself van hierdie nuwe wet van die Gees deur die lewe wat God as liefdespel gee, ʼn wedstryd te maak. Geestelikes maak God se ou wet die kerk se wet sodat God die skeidsregter kan wees en hulle die geestelike afrigters. Hierdie inhoud word verduidelik met die verskil tussen God as Skeidsregter en God as Afrigter.

  • January 22, 2017

    Series: MP3 Preke

    Inhoud Die Psalm openbaar dat God ons Rots en Verlosser is. Hy is ons Rots deur ons deel van sy volmaakte skepping te maak en te laat wees. In sy sorg en onderhouding van ons deur sy skepping is Hy alwys en almagtig. Hy is ons Verlosser wat ons in sy verbondstrou vergewe selfs al weet ons nog nie eers ons het sonde gedoen nie. Daarom is sy wet die volmaakte wyse waarop Hy ons wys op en onderrig in sy bedoeling met ons as mens in sy skepping. In sy wet ontsluit Hy vir ons die wysheid hoe om deel te wees van ons skeppingsdoel as mens. Om ons skeppingsdoel te kan ken gee ons weer lewenskrag en lewensvreugde. Daarom is sy wet vir ons reg, goed en volmaak en wil ons God se wil hoor as sy bevele, sy opdragte, sy voorskrifte, sy bepalings en sy gebooie om ons te lei in die wysheid om deel van ons skeppingsdoel te wees. Ons wil God se wil nie meer hoor as net ʼn riglyn waar ons ons eie betekenis aan ons lewe gee en self moet besluit hoe en wanneer ons na God se wet wil luister nie.

  • January 15, 2017

    Series: MP3 Preke

    Inhoud. Die Psalm openbaar dat net God in sy skepping vrugbaarheid skep en dat Hy ons vruggebruik van sy skepping as gawe skenk. Dit openbaar God elke keer in die magtige daad om die aarde met reën te deurdrenk: ons is net met vruggebruik besig en kan nooit doen wat Hy met reën doen nie. Voor die vrugbaarheid en groeikrag wat God skep en bestuur, staan ons as gelowiges in die verwondering van die goedheid van God. Ons herken God se magtige dade van sy goedheid in die reën en skepping omdat God ons in die erediens ook deur magtige dade vervul met die oorvloed van sy genade en liefde as God. Daarom neem ons sy gawe van die vrugbaarheid van die aarde op in sy diens en wy ons ons self aan die vruggebruik en bestuur van die aarde. Dit, terwyl ons weet dat Hy die dreigings en geweld van goddeloses en wetteloses wat hul self sien as skeppers van vrugbaarheid self sal vernietig.

  • January 13, 2017

    Series: MP3 Preke

    Inhoud. God gee ons die gawe van lewe en laat ons in alles wat Hy in die lewe oor ons beskik binne sy goedheid en trou leef. Hy gee die gawe van lewe, neem dit en sal ons weer lewend mens laat wees en uit die dood laat opstaan. Op hierdie wyse hou God ons altyd in alles aan Hom diensbaar en word die gawe van lewe nooit vir ons ʼn bedreiging wat ons met krag moet antwoord nie. Wie in hierdie geloof diensbaar leef word vir elkeen tot seën. Hierdie preek wys ook hoe ʼn ma en vrou in haar diens aan die Here geëer en gewaardeer moet word as opdrag van die Here. Sy moet geprys word vir haar diensbaarheid en haar werke moet haar roem wees.

  • January 8, 2017

    Series: MP3 Preke

    Inhoud Hierdie Psalm gaan oor die ontsteltenis van gelowiges om deur deugniete as waardeloos en nikswerd onteer te word. Die Psalm wys dat gelowiges waardevol in God se diens is omdat God hulle as sondaars vir sy diens reg en regverdig maak. Hulle waarde lê nie in hulle besittings of in wat deugniete van hulle dink of sê nie. God se raadsplan is die waarheid van gelowiges se lewe, nie die magsuitsprake van deugniete wat hulle waardeloos verklaar en oneervol behandel nie. Daarom kan hulle deur die dag ontstel word deur hierdie vernederings maar elke aand onbesorg rus van hulle diens aan God omdat God hulle weer die volgende dag in sy diens sal gebruik.

  • January 1, 2017

    Series: MP3 Preke

    Inhoud. God is Een en Enig. In hierdie belydenis het die volk van die Here in die OT erken dat God oor alles altyd volkome beskik. Hy voer sy raadsplan uit en gebruik sy dienaars deur alles wat Hy self laat gebeur. Daarom is God so God: “Die Here maak dood en Hy maak lewend. Hy laat afdaal na die doderyk toe en Hy laat daaruit opkom. Die Here maak arm en Hy maak ryk, Hy verneder, ook gee Hy aansien. Hy laat geringes uit die stof opstaan, Hy hef armes van die ashoop af om hulle by vername mense te laat sit. Hy skenk hulle ʼn ereplek.” In afgodsdiens maak mense God die God van net een kant van die lewe. Daarmee eis hulle vir hulle hierdie posisie op dat die mens oor alles beskik. Wie soos Hanna God as Een en Enig eer, roep Hom aan in benoudheid en dank Hom in voorspoed.