Clear

Filtered by:

Series: Preke manuskripte

  • July 15, 2018

    Inhoud Hierdie preek wys die verskil uit tussen geestelikes se uitvoer van God se bevele en die geloofsgehoorsaamheid van die kerk van Christus. Die uitvoer van God se bevele deur geestelikes is nie gehoorsaamheid aan God nie. Gehoorsaamheid aan God is liefdevolle diens en diensbare liefde aan God volgens sy wet. Net Christus was en is as mens só gehoorsaam aan God, geen ander mens nie. Geloofsgehoorsaamheid is die gehoorsaamheid wat Christus skep in hulle wie Hy insluit en laat deel in sy gehoorsaamheid om hulle só vir God reg te maak, reg te hou en reg te laat wees – deur sý gehoorsaamheid. Só maak Hy sondaars mense wat God liefdevol kan dien omdat hulle vir God reg is en nie hulle self moet opoffer om vir God reg te wees nie. Geestelikes is mense wat hulle self opoffer om hulle self vir God reg te maak en sy bevele uit te voer. Hulle is nooit geloofsgehoorsaam aan God nie.

  • June 24, 2018

    Inhoud Hierdie preek wys dat Jesus as ʼn heilige baba gebore is om die Here te wees wat gelowige ouers se babas ook as heilige babas gebore laat word. Die doop wys dat hierdie babas heilig gebore is en heilige babas is, soos die Here ook self ʼn heilige baba was. Christus bewerk hierdie heiligheid vir babas deur hulle, nes hulle ouers, in te sluit in wie Hy as mens vandag in die hemel is en deur die krag van sy godheid hulle sondige geaardheid ook weg te sny. Christene word ingesluit in wie Jesus as mens is deur sy maagdelike geboorte. Geestelikes glo in ander Jesus as die baba wat heilig gebore is uit die maagd Maria. Hulle glo in Jesus as ʼn mens in wie God se goddelike krag en mag weer gebore is. Daarom verwerp hulle die heiligheid wat die Here babas van gelowige ouers mee gebore laat word, en daarmee saam hulle doop. Geestelikes se heiligheid is nie menslike sondeloosheid nie, maar menslike goddelikheid wat babas nie kan wees nie.

  • June 17, 2018

    Inhoud hierdie preek wys op die verskil tussen die Here wat man en vrou in ʼn huwelik met mekaar verenig en mense wat verhoudings maak volgens hulle eie behoeftes en begeertes wat God dan volgens hulle moet seën. Die vereniging tussen man en vrou is nie ʼn verhouding nie en mense se verhoudings is ook nie die vereniging tussen man en vrou nie. Dit is net soos ons eenheid met Christus nie ʼn verhouding is nie, maar ʼn vereniging met Hom in wie Hy as mens vandag in die hemel is. In die vereniging wat God skep is Christus Here en ons sy liggaam. In die vereniging tussen man en vrou word hulle “husband and wife.” In afgodsdiens glo mense dat hul verhouding met God maak God menslik en mense goddelik. Met hierdie tipe geestelikheid glo hulle dat hulle sogenaamde mooi verhoudings van mans met mans, vrouens met vrouens, tieners met mekaar en mans en vrouens met veelvoudige mans en vrouens deur hierdie afgod met wie hulle ook ʼn mooi verhouding het, ingeseën sal word.

  • June 10, 2018

    Inhoud Hierdie preek wys op die verskil tussen die huwelik as magsinstelling en die huwelik as liefdesverbintenis tussen man en vrou. Die verskil gaan oor of man en vrou saam aan die Here behoort en of hulle aan hulle self en aan mekaar behoort. Behoort hulle saam aan God, ontdek hulle mekaar wie God elkeen maak, laat wees, voor gebruik en voor aanstel in die verwondering dat God hulle aan mekaar as mens en vrou gegee het. Behoort hulle aan hulle self en aan mekaar, maak hulle mekaar soos elkeen hulle wil laat wees, wil uitbeeld, voor gebruik en voor bestem. Die enigste wyse waarop man en vrou mekaar as besitting kan opeis is deur die krag en mag van sedeloosheid. Binne die verbintenis “ons behoort aan mekaar” word hierdie sedeloosheid teenoor mekaar as liefde geglo en geleef. Alleen Christus herstel die verbintenis tot God op sy ʼn wyse dat man en vrou met mekaar in die geloof kan leef: “Ons behoort aan God en is vir mekaar gegee.” In hierdie geloof is man en vrou toegewy aan mekaar en vry van die mag om mekaar te besit.

  • June 3, 2018

    Inhoud hierdie preek wys dat die wyse waarop Christus ons as sy kinders liefhet, gee ons die geloofsonderskeiding tussen liefde en dit waarvan ons gewoon net hou. Die redes wat ons voorhou vir dit waarvan ons hou, word genoem opvattings, dit is opinies, menings en gevoelens. Die rede hoekom ons God liefhet, is omdat ons aan Hom behoort. Christus se liefde maak dit waarvan ons hou totaal onbelangrik vir ons liefde vir God en ons naaste. Daarom skep liefde die vryheid om verskillende menings en gevoelens te mag hê oor dit waarvan ons hou, sonder dat ons met mekaar daaroor stry. Dit keer ook die verhouding tussen wie sterk en wie swak is om. Wie sterk menings en gevoelens afdwing is swak en wie inskiklik is met menings en gevoelens oor waarvan ons hou, is sterk in die geloof. Vir die huwelik beteken dit dat bakleiery oor menings en gevoelens oor waarvan ons hou, die houding om jou mening of gevoel met krag te laat geld en die houding om van mekaar te hou eerder as om aan mekaar te wil behoort, wys dat die geloofsonderskeiding oor wat liefde is en wat dit is waarvan mense net hou en lekker is, in die huwelik verdwyn het.

  • May 27, 2018

    Inhoud Hierdie preek wys dat babas ook die Here se beloftekinders is en daarom erfgename is van die Abrahamsbelofte. Die doop met water is ʼn teken dat hulle ingedoop is in Christus in wie Hy as mens in hulle plek vir hulle vandag is. Om ingedoop in Christus te wees, beteken om ingesluit te wees en alles wie Hy in ons plek vir ons is, te deel. Gelowiges se kinders is nie natuurlike kinders nie. Natuurlike kinders moet reg wees volgens God se wet net soos die Jode en hul kinders. Beloftekinders is reg vir God omdat hulle aangeneem is. Omdat God hulle as sy beloftekinders aangeneem het, is hulle deel van sy liefde as God vir hulle, sal Hy nie aan hul oortredings dink nie en hul sondes vergewe, en sal Hy hulle vir Hom lief maak en lief laat wees. Daarom is ouers nie hul beloftekinders se geestelike voogde of bestuurders nie, maar net getuies van God vir hul kinders wat saam met hul kinders in God se liefde leef.

  • May 20, 2018

    Inhoud Hierdie preek wys dat die Here Jesus aan ons die Heilige Gees gee om ons in te sluit in wie die Here vandag as mens in die hemel is. Daarom maak die Heilige Gees ons deel van die liggaam van die Here, dit is deel van wie Hy as mens in die hemel is. Die Heilige Gees deel met ons net wat Hy van Jesus as Here ontvang. Só maak Hy ons lede van die liggaam van die Here. Die nagmaal is die teken wat vir ons verseker wat die Heilige Gees met ons doen. In afgodsdiens glo mense dat hulle geesgenote van God se goddelike gees word omdat hierdie goddelike gees hulle in die lewe, die krag en mag van God self laat deel. Wanneer mense geesgenote van hierdie gees van afgodery word, is die nagmaal nie meer ʼn teken dat jy lid van die liggaam van die Here is nie, ingelyf in sy menswees in die hemel is nie. Die nagmaal word in die gees van afgodsdiens ʼn geestelike ete met God waarin mense hulle geesgenootskap met God in ʼn godemaaltyd met God vier. Daarmee saam word daar nuwe tekens soos die bekeringsdoop, die spreek in tale en die lag en val in die gees as nuwe sakramente ingestel: tekens dat jy ʼn geesgenoot van God en, nie meer Christus nie, maar hierdie gees jou Here is.

  • May 18, 2018

    Inhoud Hierdie preek wys op die verskil tussen die Here se Kerk en geestelike genootskappe wat hul self die kerk van de Here noem, maar dit nie is nie. Die Kerk van die Here word deur die Here aandryf deur die drie bedieningskragte wat die Here in sy Kerk ingebou het: 1. die prediking van die lyding en opstanding van Christus, 2. die bediening van die sakramente en 3. die toepassing van die Christelike tug. In hierdie Kerk leef lidmate binne die liefde van Gd met God. In geestelike genootskappe moet mense met hulle liefde en aanbidding hierdie genootskappe aandryf. Só word alles wat bedoel is om net die lewe met God te wees, werkkragte waarmee mense geestelikes se genootkappe aandryf.

  • May 6, 2018

    Inhoud Hierdie preek wys op die verskil tussen die krag waarmee Jesus Christus is en doen wat Hy as die Christus doen, en die krag waarmee Christus maak dat ons vir God heilig en regverdig kan leef. Sy goddelike krag is die krag waarmee Hy die Dawidsbelofte vir Homself vervul en die goddelike krag waarmee Hy die Abrahamsbelofte vir ons waarmaak in ons lewe. Ons krag is die vergifnis van sonde en God se liefde wat ons ontvang. Dit is soos die verskil tussen elektriese krag en waterkrag. Christus is die Here, die waterpomp wat met goddelike krag werk, dit is elektriese krag. Ons is die vrugtebome wat met waterkrag werk. Deur sy goddelike krag ontvang en gee Christus vir ons die waterkrag waarmee ons vrugte kan dra: die vergifnis van sonde en God se liefde vir ons. Dit is net soos ʼn waterpomp water ontvang en uitstort. Christus het nie gekom om sy goddelike krag waarmee Hy Christus is, die waterpomp is, ons krag te maak nie. Net soos die elektriese krag van ʼn waterpomp nie die krag kan wees wat bome laat vrugte dra nie, is Christus se goddelike krag nie die krag Hy ontvang om oor ons uit te stort nie. Hy stort vergifnis en liefde oor ons uit, nie goddelike kragte en magte nie.