Filtered by:
Series: Preke manuskripte
December 31, 2017
Series: Preke manuskripte
Inhoud Hierdie preek wys dat die nuwe sosiale kontrak van Suid Afrika dat almal rustig en veilig is in die ooreenkoms dat elkeen vir homself sy eie god vir sy eie sondige drifte kan opmaak, is ʼn waanbeeld. Dit wys ook dat in hierdie sosiale kontrak is dit hulle wat in Christus glo, wat hierdie nuwe sosiale orde om rus en vrede met sonde te hê, bedreig. Christene se rus en veiligheid is hulle lewe saam met Christus. Hulle lewe in geloof, liefde in hoop is ʼn lewe in die lig wat kom met die oordeelsdag van Christus. Die rus en veiligheid waarin die nuwe heidense gemeenskap van Suid Afrika leef, is die duisternis van ʼn gemeenskap onder die oordeel van God. Omdat Christene reeds in die lig leef wat gaan kom met die oordeelsdag, kan hulle rustig en veilig, wakker en nugter leef ten spyte van die bedreiging van hierdie nuwe heidensedom in Suid Afrika.
December 29, 2017
Series: Preke manuskripte
Inhoud Hierdie preek wys dat dit God se eer is om die liefde, die lof en eer wat sy kinders vir Hom het, vir ewig behoue te laat wees saam met Hom. Daarom het die Here die ewige lewe vir sy kinders geskep deur die lewe, sterwe en opstanding van Jesus Christus. Omdat die Here ewig met ons leef, kan die Here nooit te laat wees om ons te help voor en met die dood nie. Jesus Christus is nie net ʼn wonderbewerker wat mense kan gesond maak om nie dood te gaan nie. Hy is die Here van lewe en dood wat sy kinders in en deur die dood vir Homself lewend behou. Hierdie preek was vir die roudiens van Kelvin Coleman wat as jongman verongeluk het in Levubu.
December 25, 2017
Series: Preke manuskripte
Inhoud Hierdie preek wys dat volgens die getuienis van Johannes lewe lig gee. Lewe gee betekenis en doel, nie andersom nie. Daarom is Christus ons lig. Hy gee vir ons lewe. Hy skep ons lewe as mens en Hy sluit ons in om met Hom die lewe te deel wat Hy as mens in ons plek is, deur sy geboorte op Kersdag. Só laat Hy ons met Hom as God saam leef in sy skepping. Die lewe wat die Here met ons deel gee ons weer ʼn duidelike roeping, taak en diens in sy skepping. Sy lewe as Here met ons in sy skepping laat ons weer ons plek in die skepping vind. Lewe gee lig. In afgodsdiens wil mense hul self tempels vir God maak. Hulle wil aan hul afgod hul lewe gee sodat hierdie afgod sy doel, taak en plek in die lewe van mense sal vind. Christus se koms breek hierdie tempels af. Mense gee nie aan Jesus sy doel, taak en plek in hul lewe nie. Hy gee mense hul doel, taak en plek in die skepping.
December 24, 2017
Series: Preke manuskripte
Inhoud Hierdie preek wys dat Christus ons in die lewe wat Hy as mens leef en die lewe waarin Hy sondaar in ons plek was, insluit. Hierdie insluiting in Christus is God se ware genade en genadige waarheid. God se waarheid maak die waarheid oor ons sonde en liefde vir God genadige waarheid. Dit is die waarheid van ons sonde wat vergewe is en die liefde van kinders van God. Die leuen van die duiwel en sy kinders is om hierdie ware genade en genadige waarheid om te keer om wrede genade en ongenaakbare waarheid te wees. Die verskil tussen Christus se verlossing en die duiwel se nagemaakte verlossing is die verskil tussen lig en duisternis. Die duiwelse verlossing is verknegting in die sonde terwyl Christus se ware genade en genadige waarheid, mense verlig om sonde as sonde te bely en liefde as liefde te ken en gee.
December 17, 2017
Series: Preke manuskripte
Inhoud Hierdie preek wys dat Christus God is wat mens geword het om vir ons altyd mens te wees in ons plek. Só maak Christus ons tuis in God se liefde. Christus se geboorte is nie vir ons ʼn voorbeeld van wat tussen ons en God moet gebeur nie. Dit is wie Christus is om vir ons die gawe van die ewige lewe met Hom te gee. Wanneer Christus in sy geboorte tot ʼn voorbeeld gemaak word van hoe God in ons gebore moet word, dan het Christus gekom om ons hel op aarde te gee. Want dan is Hy die voorbeeld wat wys dat ons nooit God genoeg vir God se liefde sal wees nie en daarom moet ons niks word sodat God alles in ons lewe kan kom word. Dit is hoe Kersfees ʼn fees word waar God en mense presente uitruil: God gee sy goddelikheid vir mense en mense gee hulle menslikheid vir God. Kersfees is egter die fees van hoe God ons tuis in sy liefde kom maak het.
December 16, 2017
Series: Preke manuskripte
Inhoud hierdie preek wys dat Purimfees ook net soos die Geloftefees gevier was om God te eer vir sy wonderbaarlike uitkoms uit ʼn dreigende etniese volksmoord. Dit wys verder op die verskil in die wyse waarop God uitkoms gegee het in die Estergeskiedenis teenoor die uitkomste wat die Here van die mag van Israel se vyande gegee het, toe hulle ʼn eie staat, politieke en militêre leiers gehad het. Dit wys dat God net so wonderbaarlik uitkoms kan gee met net ʼn ou man en tienerdogter, as wat Hy dit ʼn weermag en militêre leiers kan doen. God gebruik die sondes van ons vyande, die magte en wette van ons vyande, ons gehoorsaamheid aan Hom en ons bereidheid om vir ons eie gemeenskap se veiligheid en welvaart op te staan en in te staan, om dieselfde vir ons te doen as wat Hy vir ons voorouers by Bloedrivier gedoen het. Daarom moet ons God dank en eer vir die wyse waarop Hy ons by Bloedrivier ʼn toekoms in hierdie land gegee het en op Hom hoop en vertrou om ons vandag uitkoms te kan gee van die staatsvyandigheid teen ons, net soos in die Estergeskiedenis.
December 10, 2017
Series: Preke manuskripte
Inhoud hierdie preek wys dat die wyse waarop God kinders van God maak is om hulle te verenig met sy Eniggebore Seun. Om ingesluit te word in wie die Eniggebore Seun vandag as mens in die hemel is, is die skeppingsdaad waardeur God mense as sy kinders verwek. Wie ingesluit is in wie die Eniggebore Seun is, is uit God gebore. Vertroue in God is ʼn skepping van God, net soos vertroue van kinders in hulle ouers deur hulle ouers geskep is deur hulle as kinders te verwek. Daarom is Christene kinders van God: hulle is uit God gebore, verwek deur hulle vereniging met wie Christus as mens vir hulle is. Vandag word hierdie karakter van geloof Christene ontsê deur die magshouding van ʼn goddelose gemeenskap dat hulle moet aanvaar dat hulle self besluit en gekies het om te glo soos hulle glo, nes ander godsdienste. Daarom moet Christene verklaar dat hulle glo soos ander glo: hulle maak vir hulle self ʼn god om in te glo. Christene het nie ʼn god met hulle geloof verwek nie. Hulle is uit God self gebore.
December 3, 2017
Series: Preke manuskripte
Inhoud Hierdie preek wys dat die verskil binne die Christelike gemeenskap vandag tussen God se spesiale kinders en sy gewone kinders, reeds aangepreek was deur die apostel Johannes in sy eerste brief. Die moderne Christelikheid skep die verskil tussen gewone bekeerde Christene en spesiale godsvervulde Christene. Die geestelike oordeel van hierdie godsvervuldes oor gelowiges is die broederhaat wat Johannes uitwys. Johannes wys dat hulle ervaring van goddelikheid hul in die waan van oorwinning oor hul sondigheid laat leef, hul ervaring van goddelikheid nie die liefde van die wet is nie en dat hul intieme eie wees met God nie kennis van God is nie. Teenoor die gewaande onderskeid van God se spesiale kinders en sy gewone kinders stel die apostel die werklike verskil: die verskil tussen kinders van God en kinders van die Duiwel. Hy wys dat hierdie godsvervulde geestelikes is kinders van die Duiwel, nie God se spesiale kinders nie. Op hierdie wyse bevestig Johannes die onderlinge verbondenheid van gelowiges met Christus en met mekaar as die ware gemeenskap van die kerk. Johannes wys dat vandag se godvervuldes is kinders van die Duiwel.
November 26, 2017
Series: Preke manuskripte
Inhoud. Hierdie preek wys dat Christus is God. Hy is nie goddelik soos die Jode Hom van beskuldig het nie. Dit is juis omdat hy nie goddelik is, dat hulle Hom nie aanvaar nie. Die eer wat mense vir mekaar gee is om mekaar as mense lief te hê soos hulle God moes liefhê, met hul hele hart, siel, verstand en al hul krag. Daarom het hulle nie hierdie liefde vir God nie, want hulle het dit vir mekaar. Christus sluit ons weer in in die liefde van God sodat ons God se liefde ken en glo. Omdat ons God se liefde ken en glo, kan ons nie die eer wat mense vir mekaar gee, of gee of ontvang nie. Ons gee aan die Seun die eer dat Hy ons insluit in God se liefde en ken mense as ons naaste. Mense soos ons, wat ons as mens liefhet nes soos ons self, nie soos God nie.