Clear

Filtered by:

Series: Preke manuskripte

  • September 3, 2017

    Inhoud Hierdie preek wys hoe Jesus Christus deur sy lyding en opstanding ons dade goeie werke maak wat God die Vader verheerlik. Elke gelowige se gehoorsaamheid aan God is alleen tot eer van God, Soli Deo Gloria. Die werklike stryd in die Reformasie was nie of ʼn mens goeie werke moet doen of nie, maar hoe is ons dade goeie werke wat God verheerlik. Die antwoord is dat Christus se heilswerk maak ons dade só! Hy maak ons gehoorsaamheid aan God se wet, navolging van Hom, kruisdra en selfverloëning. Navolging beteken gehoorsaamheid aan die wet sommer net omdat Hy ons liefdevolle Vader is nie, nie gehoorsaam om God se sorg te kry of sy straf te keer nie. Kruisdra beteken om vreugdevol en trots te sukkel met die Tien Gebooie wat ons net gedeeltelik regkry. Selfverloëning beteken dat ons ons oortredings volgens die wet erken, maar ons self altyd met vertroue as kinders van God die Vader sien, niks anders nie. Wie God só gehoorsaam se dade wys dat Hy vir sy kinders ʼn goeie Vader is. In afgodsdiens wys mense hulle perfekte gehoorsaamheid deur goddelike krag omdat hulle God as ʼn afwesige Vader minag.

  • August 27, 2017

    Inhoud Hierdie preek is ʼn verwerking en uitbreiding van Martin Luther se preekinleiding: “ʼn Kort handleiding van wat ʼn mens in die evangelie moet soek en verwag”, wat hy in 1521 tydens sy verblyf in Wartburg geskryf het. Jesus Christus is in sy heilswerk: sy geboorte, lyding, kruisiging, sterwe en opstanding, God se gawe aan ons. Hy is nie in sy heilswerk vir ons ʼn voorbeeld van wat ons self moet wees en doen nie. Hierdie onderskeid tussen gawe en voorbeeld wys weer wat die evangelie is. Dit is die inhoud van ons apostoliese geloofsbelydenis, alles wat Jesus doen en wie Hy is. Die wet, al God se gebooie, liefde vir God volgens die groot gebod, gebed, getuienis en die geskiedenis van Israel is nie die evangelie nie. Net wie Christus is en die beloftes wat Hy in die Ou Testament vervul, is die evangelie in die Bybel. Net deur die evangelie, sonder die wet, laat die Here ons heilig en heiliges wees. Almal wat glo of wys hulle is heilig omdat hulle Jesus se voorbeeld volg, is huigelaars.

  • August 25, 2017

    Inhoud Hierdie preek wys op die verskil tussen hulle wat die Here roep om sy gemeentes as leraars te bedien en hulle wat hulle as selfbemagtigde geestelike leiers in die Naam van God wil voorhou. Leraars is hulle wat met die evangelie na lidmate kom en hulle lidmate liefhet as medegelowiges. Geestelike leiers is hulle wat met die krag van God ʼn wêreldwye massa aan hulle geestelike mag wil onderwerp. Die Here rus gemeentes toe met die gawe van gewone leraars om in liefde lidmate met die evangelie te bedien. Dit is die werklike saak wat Paulus in die bekende 1 Korinte 13 aan die orde stel. Hierdie preek was gehou as gedenkdiens vir die werk wat ds. Harm Bonnema as gewone dominee in die gemeente Soutpansberg en Louis Trichardt gedoen het en die lewe wat hy saam met sy gemeentelede geleef het.

  • August 20, 2017

    Inhoud. Hierdie preek wys op die verskil tussen die nagmaal as teken en die nagmaal as offerfees. Die nagmaal is ʼn teken waarmee die Here ons verseker van ons vereniging met Hom as mens in die hemel waardeur Hy ons insluit in sy liefde as God. Die nagmaal kan nooit ʼn offerfees wees nie. Offerfeeste is wat die Bybel tempelprostitusie noem. Dit is die innigheid met die krag en lewe van God, om deur sy goddelike krag ons sondige begeertes te kan bevredig en met sy goddelike lewe ons begeertes as ware liefde te kan uitleef. Hierdie hoerery met God was die bedreiging van die nagmaalsgebruik in die gemeente Korinte en dit is vandag ook nog steeds binne die moderne Christelikheid die manier waarop hulle nagmaal hou. Hulle hou offerfeeste om deel van God se krag en lewe te word om daarmee hul sondige begeertes te kan bevredig. Met hierdie feestelikhede met God, vermy hulle die oomblik waarin God ons van sy liefde verseker sodat ons met sy gebooie in sy liefde kan leef.

  • August 13, 2017

    Inhoud Derde Reformasie preek. Hierdie preek wys dat Christus se offerdood vir ons sonde ons deel maak van God die Vader se liefde. Die tempel wat die Here bou is die liefde van God die Vader waarin ons tuis is. Vir hierdie liefde gee en doen ons niks nie. Dit skep in ons ʼn wederliefde wat ook niks kry of verdien by God wat Hy nie uit liefde aan ons gee nie. Daarom is die liefde van God sy vir kinders en hulle liefde vir Hom, handelsvry. Die moderne Christelikheid maak van God en sy liefde ʼn besigheid. Dit doen hulle deur voor te gee dat die liefde tussen God die Vader en sy kinders werk deur ruilhandel. Op hierdie wyse word hulle God se markagente wat as middelmanne hul eie binnehandel bedryf met alles wat God uit vrye guns en liefde aan sy kinders gee. Christus het deur sy lyding en opstanding al hierdie geestelike bedrywe vernietig sodat sy kinders God handelsvry kan liefhê en aanbid.

  • August 6, 2017

    Inhoud Die wyse waarop ons bid word bepaal deur die geloof in Hom tot wie ons bid. Martin Luther het eers geglo God is regverdig om hom aan te kla en te straf sodat hy moet vergoed vir sy sondes. Daarom het hy gebid as skuldige voor God om by God sy skuld met God te verreken. Toe ontdek hy die evangelie dat God reg is om ons nie aan te kla en te straf vir die sondes wat ons doen nie, omdat Christus in ons plek vir ons die aangeklaagde en gestrafte mens was. God laat ons vir Hom en sy liefde reg wees nog voor ons vra. Daarom kon hy, en ons nou ook soos hy, anders bid. Gebed is vir ons deel van ons dankbaarheidslewe, nie die manier waarop ons van die oordeel en straf van ons sonde verlos word nie. Ons glo deur die evangelie in vergifnis en dan bid ons dankbaar volgens die wet om vergifnis. Ons vra God vrymoedig om ons ons oortredings te vergewe omdat ons geen staf of skuld van God verwag nie.

  • June 25, 2017

    Inhoud In hierdie preek word gewys dat die ontkenning van God as Skepper en die ontkenning van die mens as God se skepsel gebeur omdat mense glo hulle kan van God ʼn uitbeelding maak. Mense wil God uitbeeld en dan moet God God wees soos mense Hom uitbeeld. Hierdie is ironies genoeg die God wat die goddeloses verwerp sowel as die God wat die geestelikes hulle self mee vereenselwig. Daarom moet hulle of God as Skepper ontken en glo die mens is maar net die produk van natuurkragte, of glo dat God kon nie die mens deur die evolusie van die lewe geskep het nie. Ons as gelowiges ken God as Skepper en kan daarom ook erken dat Hy ons deur die proses van die evolusie van die lewe gemaak het soos Hy ons wou hê terwyl ons terselfdertyd onsself as mense aanvaar wat God as ons Skepper eer, loof en dank.

  • June 18, 2017

    Inhoud Hierdie preek wys hoe die tweede skeppingsgetuienis God openbaar as Skepper en ontwikkelaar van sy koninklike park. Die skepping is God se koninklike park. Dit is waar Hy Homself as God is soos Hy God is. Die mens is ook geskep om homself as mens te wees binne God se koninklike park, sy skepping. Mense is geskep om liggaamlik deel van God se skepping te wees – menslike liggaam en liggaamlik mens. Dit is ons ewigheidsbestemming om saam met God mens in sy skepping te wees. Daarvoor het Christus as mens uit die dood opgestaan – om ons ook weer liggaamlik uit die dood te laat opstaan om deel van die nuwe skepping te wees. Die mens wil nie met God mens wees in God se skepping nie. Hy wil God uit sy skepping verwyder en isoleer in ʼn gefantaseerde godepark buite die skepping.

  • June 11, 2017

    Inhoud God verheerlik Homself deur die evolusie van sy skepping. Die getuienis van Genesis 1 openbaar hoe God alles uit niks geskep het, en toe ontwikkel het tot die lewensvolheid wat vandag bestaan en ons elke dag al meer van leer ken. In God se verbondstrou waarin Hy met volmag onderneem om vir ons God te wees en ons sy kinders te laat wees, herken ons God se volmag waarin Hy alles volgens sy wil maak en ontwikkel. Hy verheerlik Homself deur sy skepping – daarom is die sewende dag deel van die skepping. God se heerlikheid is die voltooiing en vervolmaking van alles wat Hy ontwikkel en onderhou. Vir goddeloses is die hoogtepunt van die skepping die sesde dag, die mens, nie die sewende dag, God se rustige verheuging in sy skepping nie. Alle lewe wat God deur evolusie vorm, getuig van die heerlikheid van God. Goddeloses ontneem God hierdie eer deur in die skepping ʼn selfaangedrewe krag en selfgenoegsame bestaanswyse te vind wat hulle “die natuur” noem. In hierdie natuurkrag en natuurlike bestaanwyse sien hulle die mens as die hoogtepunt van alles wat is.