Clear

Filtered by:

Series: Preke manuskripte

  • June 4, 2017

    Inhoud Hierdie preek wys dat alle mense God ken vir sy krag en wysheid waarmee Hy besig is om sy skepping, te maak, te bestuur en te onderhou. Hierdie kennis is nie tot enkele geestelikes of slimmes beperk nie. God se liefde deel Hy nie met elkeen nie. Dit stort Hy net in sy kinders se harte uit. Wanneer ongelowiges God se krag en wysheid in alles wat Hy gemaak het, raaksien, wil hulle God se krag en wysheid hulle eie krag en wysheid maak. Geestelikes wil God se krag kry om net soos God wonderwerke te doen en slimmes wil die kragte waarmee Hy sy skepping bestuur, lewenskrag, atoomkrag, swaartekrag, magnetiese en elektriese krag, ook hulle eie kragte maak. Gelowiges wil nie God se krag hul eie krag maak nie. Hulle sien God se liefde vir sy skepping raak en eer Hom vir die liefdevolle wyse waarop Hy alles maak en onderhou. Hulle sien God is lief vir sy skepping net soos vir hulle as sy kinders.

  • May 28, 2017

    Inhoud Hierdie preek wys dat Christene weer God as Skepper kan herken en erken in sy skeppingswerk deur die wyse waarop God hulle vergewe. Die wyse waarop God ons vergewe is ook die wyse waarop Hy Skepper van sy skepping is: uit Hom, deur Hom en tot Hom is alle dinge. Daarom kan nie een deel van God se skeppingswerk ons in ʼn geloofskrisis bring oor God en ons verlossing nie. Die gewaande geloofskrisisse wat kennis van God se handewerk vir die kerk sou skep, word deur die ongeloof van mense veroorsaak. Ongeloof in die tipe ingesteldheid dat God gee vir jou wat jy wil hê wanneer jy vir Hom gee wat Hy wil hê. Hierdie tipe afgod en afgodsdiens word vernietig deur elke stukkie kennis van hoe God Skepper is en hoe sy skeppingswerk is. Elke deel van God se skeppingswerk getuig teen so valse godsbeeld en godservaring. Goddeloses onteer God deur sy skeppingswerk tot selfaangedrewe godlose krag te maak wat hulle met die skyn van wetenskaplikheid oor die skepping “die natuur” noem. Met hierdie selfopgemaakte natuurkrag wil hulle die kerk belaglik maak deur die skeppingswerk van God. Die kerk leef nie in konflik met die skeppingswerk van God nie. Die kerk erken en herken God as Skepper in elke nuwe stukkie kennis oor sy skepping.

  • May 22, 2017

    Inhoud Hierdie preek wys op die kontras tussen die mens se breekbaarheid en God wat sy kinders heel hou in hulle breekbaarheid binne die geweld van hierdie wêreld. Niks in die mens, nie sy liggaam, siel of gees is onbreekbaar nie. God belê sy liefde as Vader in ons menslike breekbaarheid. Dit doen Hy deur ons te laat deel in die sterwe en lewe van Christus as mens in die hemel vandag. Daarom hanteer God ons met die sorgsaamheid waarmee ʼn besigheidsman die kleipotte wat sy kosbare lewensmiddele binne in hou, sorgsaam hanteer. Hy sorg dat die skat wat Hy in ons belê het, sy liefde vir ons, vir Hom ewig behoue bly. Daarom is dit Hy wat ons nie laat vaspen wanneer ons verdruk word nie, wat ons nie sonder raad los wanneer ons radeloos is en ons nie laat vernietig word wanneer ons val nie, ook nie deur die dood nie. Met sy krag as God wat alle ander kragte oortref, versorg en bewaar Hy ons om sy belegging van liefde in ons vir Hom self ewig te behou.

  • May 14, 2017

    Inhoud Hierdie preek wys op die verskil tussen volwassenheid in die geloof in Jesus Christus en onvolwassenheid in die geloof. Onvolwassenheid gaan oor die soeke na geestelike ervarings met God terwyl volwassenheid gaan oor die God self. Volwassenheid in die geloof gaan oor die onderskeid tussen wat binne is en wat buite is, wat innerlik van waarde is en wat uiterlike waardeloosheid is. In die geloof is Christus ons binneste, nie ons geestelikheid met God nie. In die geloof is Christus se Gees ons binneste en hou Hy ons besig met die dinge van Christus: sy lyding, kruisiging, sterwe en opstanding en ons vereniging daarmee. In geestelike ervarings is mense vandag met die uiterlike waardelose dinge besig as die innerlike van hulle geestelikheid. Hulle keer wat binne is om na buite en maak so van bekering ʼn geestelike selfervaring in plaas van ʼn daad wat soek na die wil van God, van gebed wat God eer maak hulle meditasie wat soek na godservarings en van die luister na God se Woord maak hulle geestelike rituele.

  • May 1, 2017

    Inhoud Die mag van die dood is om ons lewe in diens en in liefde met God tevergeefs te maak. Deur die dood gaan al ons handewerk vir God verlore en tot niet. Christus het as mens uit die dood opgestaan en leef vandag as mens onsterflik en onverganklik. Hy sluit ons in hierdie lewe in en sal met ʼn magsdaad ons ook as mense met onsterflikheid en onverganklikheid beklee om ewig as mense in God se liefde te leef. Daarmee breek Christus die mag van die dood om ons lewe en diens aan God tevergeefs te maak. Die kortstondigheid, tydelikheid en moeitevolheid van die lewe is ʼn lewe met God in sy goedheid vir ewig.

  • April 23, 2017

    Inhoud Hierdie preek wys dat Christus ware aanbidding van Hom as Here en God geskep het in en deur sy lyding en opstanding uit die dood. Deur ons in al God se verbondsseëninge te laat deel en in te sluit, maak Christus die aanroep van God gebed en maak Hy mense se aanbiedinge aan God offergawes. Daarmee vernietig Christus alle ruilhandel tussen God en mens. Die Here wys in sy vervulling van God se verbondsondernemings dat mense se geestelike feeste is niks anders as rowersspelonke waar mense God probeer vereer met alles wat hulle van God gebuit en geroof het nie. Hierdie geeste en spirituele feeste van die moderne Christelikheid vandag, is nie eredienste nie: hulle aanroep van God is nie gebede en hulle aanbiedinge aan God is nie offergawes nie. Dit is geestelike geweld waarmee hulle God wil roof en wil deel in wie en wat God as Here is.

  • April 16, 2017

    Inhoud. Christus het die opdrag van God die Vader uitgevoer deur self weer as mens uit die dood op te staan op so wyse dat Hy vandag nog steeds mens is. Soos wat Hy aan sy dissipels gewys het hoe hy mens is na sy dood is Hy vandag nog steeds ʼn mens van vleis en bloed. Geloof in Hom as Here is om te glo dat Hy self as mens leef, ons in sy lewe as mens insluit en so ons aan God die Vader in sy liefde laat behoort. Ongeloof in die Here volgens die gees van die antichris is om nie te glo dat die Here vandag mens is van vleis en bloed nie, maar dat Hy gees is. Dit is die ongeloof waarin mense Jesus se lewe geestelik wil beset en besit. Daarom leef hulle in die ongeloof dat Hy in hulle moet opstaan, in hulle moet leef sodat hulle sy lewe vir Hom op aarde kan voortsit. Dit is die ongelowige hart van elke herlewing, oplewing en vernuwing wat die Here se lewe, liefde, waardes, beginsels, krag en Naam wil voortleef. Die Here het self opgestaan en lewe vandag nog steeds om ons in te sluit in wie Hy is sodat ons só aan Hom as God kan behoort.

  • April 14, 2017

    Inhoud. Christus voer sy Vader se opdrag uit deur self die aangeklaagde, veroordeelde, skuldige en gestrafte sondaar volgens die wet van God te word. Hy word nie die koning van sy dissipels se gewapende geweld nie, nie die slagoffer van die Jode se moordkomplot nie en ook nie die vrygelate onskuldige van Pilatus se regspraak en politiekery met die reg nie. Omdat die Here in ons plek die veroordeelde sondaar volgens die wet van God word, word ons ingesluit in die liefde wat die Vader vir die Seun het. In hierdie liefde is ons tuis in die gewetensrus dat ons nooit weer deur God aangekla, veroordeel, beskuldig of sal straf nie. In die moderne Christelikheid moet mense self die lydingsbeker van Christus drink as die wyse waarop hulle hul self aan sy mag as God oor gee en ondergeskik stel.

  • April 9, 2017

    Inhoud. Hierdie preek wys dat die Here Jesus alleen die volmag het om sy lewe as offer vir sonde af te lê en die volmag het om weer uit die dood op te staan om sy lewe as mens met sy kerk vandag te deel. Die Here skep en gee ons die ewige lewe: ʼn lewe waarin ons vir ewig binne die liefde van God bly al het ons nie werklike liefde nie. Die Here het sy lewe as offer afgelê sodat ons met Hom die ewige lewe kan leef. Die wêreldse geestelikheid wys in die eiemagtigheid waarmee Petrus die Here teengaan om self sy eie ewe vir die Here te wil aflê. Geestelikheid wil God bemagtig om Here te wees deur die ewige lewe weg te gee, op te gee en oor te gee sodat God sy goddelike lewe deur mense maar moet kom leef omdat hulle op die ewige lewe opgegee het. Gelowiges lê nie hulle lewe vir God af soos Jesus nie maar leef die ewige lewe saam met die Here.