'n Indruk van my eie opvattings en oortuigings oor vergifnis van sonde

January 24, 2017
Audio Download

VRAELYS OOR WET EN EVANGELIE: GELOOF EN WETSGEHOORSAAMHEID.
Die volgende vrae gee jou die geleentheid om jou eie oortuigings te vind en te toets.

Die vrae is ʼn hulpmiddel om jou te wys wat is jou eie oortuigings. Dit is nie ʼn vasvrakompetisie nie. Die vrae is so opgestel dat jou eie geloofsinhoude en godsdienstige oortuigings kan raaksien en kan onderskei van geloofsinhoude en oortuigings wat nie jou eie is nie. So kan jy agterkom wat glo jou en wat is jou waardes. Dit maak hierdie kursus anders. Ons wil nie net sommer dadelik sê wat sê die Bybel en dan moet jy dit net hoor en aanvaar nie. Hierdie manier werk nie. Want jy kry nie op hierdie manier kans om eers jou eie geloof en waardes te kan ontdek en herken nie.

Het jy al ooit die geleentheid gehad om jou eie geloof en waardes te kan uitsorteer en om te sien wat leef in jou hart en gedagtes? Of moes jy nog maar altyd net hoor wat ander sê, aanvaar wat hulle oor die Bybel sê, sonder dat jy kans het om jou eie mening duidelik uit te sorteer? Dit is wat die vraelys doen. Dit vat die bekendste en algemeenste geloofsinhoude en gee jou ʼn kans om jou eie te kies en so te wys wat leef in jou eie gemoed: wat is jou eie geloofsinhoud en jou eie godsdienstige waardes!

Ons gaan dit met elke gesprek doen, jou eers kans gee om jou eie mening te ontdek en dan gesprek te voer oor die inhoud van die Woord van die Here. Op hierdie wyse kan ons dan gesels oor jou eie oortuigings en geloofsinhoude en die inhoud van die Woord van die Here. Dit gee ons die geleentheid om te kyk hoe jou oortuigings en geloofsinhoude verskil of ooreenkom met die Woord van die Here.

Dit gee jou ook die geleentheid om eie nuwe geloofsinhoude en geloofswaardes te ontdek. Dit gee jou ook die vermoë om verskille te kan raaksien en jouself los te maak van oortuigings en waardes wat jy gehad het, maar nie meer wil aanvaar nie. Dit gee ons dan ook die geleentheid vir gesprek: Hoekom glo jy glo en doen jy wat jy doen? Hoekom wys die Woord van God ons wat om te glo en wat om te doen? Die enigste manier waarop hierdie vraelys kan werk, is as jy dit gebruik om te kies wat jy regtig self glo. As jy dit invul omdat jy dink daar is iewers ʼn regte antwoord en jy raai die regte een, dan gaan jy jouself en ons bluf. Dan gebruik jy nie die geleentheid om jou eie mening te kan raaksien nie.

Die eerste en belangrikste vraag is:
1. Wat moet ons doen sodát God ons sondes vergewe?
2. Wat moet ‘n mens doen sodát jy ‘n kind van God wórd?
3. Wat moet ‘n mens doen sodát jy Hemel toe te gáán?
Hoor en lees die vraag reg.
Die aksent lê op die woorde: sodát, en ʼn kind van God wórd, hemel toe gáán. Wat moet ons doen sodat hierdie dinge regtig deel is van ons lewe!

Merk jou eie oortuigings af.
Maak teenoor die volgende antwoorde ʼn regmerk as jy saamstem dat dit is wat jy moet doen en ʼn verkeerdmerk as jy voel dit is nie iets wat ʼn mens moet doen nie om deur God vergewe te word, ʼn kind van God te word of om hemel toe te gaan nie. Byvoorbeeld. a. Jy moet om vergifnis vra. ×
b. Jy moet sê dat jy jammer is. √

Maak nog ʼn stel merktekens.
Vir die meeste mense is hierdie drie sake maar dieselfde sake met dieselfde antwoorde. As dit so is, maak net een stel reg- of verkeerdmerkies na die sinne a tot u. Maar as jy voel dit is vir jou verskillende sake met verskillende antwoorde, dan kan jy vir elke vraag ʼn stel reg of verkeerdmerkies na sinne maak: een stel vir vraag een, vraag twee of vraag drie. Byvoorbeeld
a. Jy moet om vergifnis vra. × √ ×
b. Jy moet moet sê dat jy jammer is. √ √ ×

Kies jou eie en sien wie jy is!
Hier is die mees algemene oortuigings wat die meeste mense gewoonlik het.

a. Jy moet vir God om vergifnis vra.
b. Jy moet vir God sê dat jy jammer is.
c. Jy moet berou hê oor jou sonde.
d. Jy moet glo dat jy vergewe word.
e. Jy moet die Evangelie glo.
f. Jy moet beloof om dit nie weer te doen nie
g. Jy moet probeer om dit nie weer te doen nie
h. Jy moet volgens die Here se wil leef.
i. Jy moet volgens die Tien gebooie leef.
j. Jy moet probeer om die Here lief te hê
k. Jy moet die Here liefhê.
l. Jy moet Jesus in jou lewe innooi.
m. Jy moet God in jou lewe innooi.
n. Jy moet jou hart vir die Here gee.
o. Jy moet God aanneem.
p. Jy moet Jesus aanneem.
q. Jy moet die beheer van jou lewe vir Jesus gee.
r. Jy moet gereeld bid.
s. Jy moet anders lewe.
t. Jy moet glo Jesus het vir jou sondes gesterf.