Inleiding van kursus Geloofsonderrig

January 24, 2017
Audio Download

Inleiding.

Hierdie kursus is ʼn geloofsonderrig in die openbaring van God se liefde in die Bybel. Sy liefde waardeur hy in sondaars ʼn wederliefde skep. Die openbaring van die Here in die Bybel gaan oor liefde: sy liefde vir ons en ons liefde vir Hom.

Hierdie twee dele word deur Paulus opgesom as geloof en liefde. Dit beteken die geloof in die liefde wat God ons by insluit en laat deel. Hy noem dit geloof omdat ons in hierdie liefde van God vir ons glo. En liefde beteken die Here skep in ons ʼn liefde vir Hom volgens sy wet.

Hierdie geloofskursus wys wat is hierdie liefde wat God vir ons by insluit en wat is die liefde wat Hy in ons vir Hom en mense skep.

Wat hierdie kursus anders maak is dat dit nie net wys hoe God sy liefde vir ons en ons liefde vir Hom openbaar, en ons daarin laat deel nie, maar dit wys die hele tyd die verskil tussen liefde en geestelike mag. Dit is wat afgodsdiens is: dit is die kunstigheid om God se liefde vir ons en ons liefde vir God te verdraai om geestelike mag te wees. Elke deel van die Bybel wys hoe God sy liefde meedeel terwyl goddeloses hierdie liefde verdraai in hulle eie gemoed om niks anders as geestelike mag te wees nie.

Wat hierdie kursus nog anders maak is dat dit wys hoe hierdie afgodsdiens vandag besig is geloof en liefde te verdraai om geestelike mag te wees binne die Christelike kerke. Predikante, leraars, dominees, pastore, priesters en geestelike leiers is grotendeels vandag met afgodsdiens besig. Hulle verdraai liefde om geestelike mag te wees.

Die naam vir wat hulle mee besig is, is die moderne Christelikheid. Hierdie uitdrukking beskryf die moderne afgodsdiens. Dit is moderne goddeloosheid. Dit wil lyk soos die liefde wat Christene by God ontvang en vir Hom het, maar dit is net ʼn voorwendsel. Dit wil net so lyk. Dit wil nie so wees nie. Dit wil goddeloosheid wees in die skyn van godsdiens. Dit is wat afgodsdiens volgens die Bybel is. Dit is goddeloosheid met die voorkoms of skyn van godsdiens. Dit is geestelike mag met die voorkoms of skyn van liefde.

Hierdie kursus onderrig mense in die liefde wat God in die Bybel openbaar en terselfdertyd wys dit ook hoe die moderne Christelikheid hierdie liefde verdraai om geestelike mag te wees. Dit gee jou die vermoë om die liefde van God te kan onderskei van die geestelike mag van die moderne Christelikheid. Hierdie verdraaiing is so diep en algemeen dat gelowiges binne die kerk nie meer die verskil ken nie en so van die liefde van God en vir God vervreem is, terwyl hulle kinders van die Here is. Dit is die probleem wat hierdie kursus aanspreek: om mense wat God in sy liefde insluit maar deur geestelikes daarvan vervreem word, weer God se liefde te help ontdek as anders as die geestelike mag waarin hulle in kerke mee gedissiplineer word.

Hierdie kursus is daarom bedoel om ʼn onderrig te wees in godsdiensvryheid. Die vryheid om deel van God de liefde te wees en om vry te leef met die wederliefde wat Hy in ons skep in sy wêreld, die vryheid van geestelike mag, afgodsdiens.